Hessequa Munisipaliteit doen ʼn dringende beroep op inwoners in die Hessequa-streek om water spaarsamig te gebruik.
Stand van damme soos op 30 Januarie 2017 :
Korentepoortdam = 66,4% (93,6% verlede jaar)
Duivenhoksdam = 74,4%
Olive Grove dam = 30%
Die hele Suid-Afrika ondervind tans baie warm weer asook min tot geen reënval. Dit word hoofsaaklik toegeskryf aan klimaatsverandering/aardverwarming. Hessequa word ook hierdeur geraak soos byvoorbeeld langer tydperke van droogte; onvoorspelbare weerspatrone; ens.
Gedurende die afgelope twee jaar het Hessequa reeds waterbesparingsmaatreëls ingestel om watergebruikpatrone te verander, met groot sukses. A.g.v. die hoë temperatuur, veldbrande, baie besoekers en persone wat terugkeer na vakansie is die verbruik van water abnormaal hoog en word die watergebruike daagliks nagegaan. Waterbesparingsmaatreëls is ingestel om konstante lewering te verseker. Die reën wat ons ontvang het, het wondere verrig maar die realiteit is dat die watergebruike hoër is as die lewering in seker dorpe. Die waterbesparingsmaatreëls is steeds in plek en het tot gevolg gehad dat inwoners en besoekers water sinvol aanwend.
Waterbesparingsmaatreëls is gemik op verantwoordelike watergebruik en nie as beperkend op die publiek nie.
1.1 Natmaak van tuine, parke of enige gras-area, word verbied tussen 10:00 en 16:00. (Bona fide kwekerye, duine rehabilitasie projekte, sekere sportvelde, sowel as karwas dienste, slagpale en persele vir die voorbereiding van voedsel, word vrygestel van hierdie bepaling.)
1.2 Spreiers word toegelaat, maar tuinslange mag nie sonder toesig gelos word nie.
1.3 Afspuit van plaveisel en sementoppervlaktes word nie toegelaat nie. (Die afwas van sekere oppervlaktes in karwas dienste, slagpale en persele vir die voorbereiding van voedsel, word vrygestel van hierdie bepaling).
1.4 Voertuie, bote en karavane moet verkieslik met emmers gewas word. Waar ʼn tuinslang gebruik word, moet dit toegerus wees met ʼn outomatiese afsluit spuitkop.
1.5 Die Munisipaliteit behou die reg om, na oorweging van ʼn gemotiveerde aansoek, skriftelike goedkeuring te verleen vir vrystelling van spesifieke beperkings vir sekere verbruikers.
Alle inwoners word versoek om water spaarsamig te gebruik. Water is kosbaar, hanteer dit so.