Hessequa Munisipaliteit voorsien drinkwater aan die dorpe van Heidelberg, Slangrivier en Witsand wat deur Overberg Water voorsien word. Gedurende die afgelope paar maande ondervind Overberg Water probleme by hul watersuiweringsaanleg wat veroorsaak dat bruin water in die reservoirs en retikulasie netwerk van die Munisipaliteit beland.
Op 16 Januarie 2022 het die situasie versleg en het die Munisipaliteit Overberg Water versoek om die toevoer na die munisipale reservoirs tydelik te staak. Verdere ondersoek het getoon dat die reservoir van Overberg Water tans op 20% staan, met die gevolg dat slyk binne die retikulasie netwerk beland het. Die Munisipaliteit se Tegniese Departement het die retikulasie netwerk van die geaffekteerde areas gespoel en was waterkwaliteit weer aanvaarbaar.
Op Maandag, 17 Januarie 2022, het die Munisipaliteit die reservoirs skoongemaak, waarna Overberg Water ook aangedui het dat hul op 18 Januarie 2022 hul reservoir gaan skoonmaak. Gedurende hierdie water onderbrekings voorsien water trokke die gemeenskap van Heidelberg met skoon drinkwater.
Hessequa Munisipaliteit bied verskoning aan vir die ongerief en bedank inwoners vir hul begrip en wil inwoners die versekering gee dat daar ten alle tye gepoog word om water van hoogstaande gehalte aan die gemeenskap te lewer.