Afrikaans Afrikaans English English Sesotho Sesotho Xhosa Xhosa Zulu Zulu
Afrikaans Afrikaans English English Sesotho Sesotho Xhosa Xhosa Zulu Zulu
Entrepreneurs Academy

Onderverdeling van die Stilbaai vliegveld

Die voorgestelde onderverdeling van die Stilbaai vliegveld behels dat die bestaande vliegveld soos wat dit tans daarna uitsien (vliegtuigloodse ingesluit) vanuit erf 238 onderverdeel word. Erf 238, wat grotendeels die Pauline Bohnen Reservaat insluit, huisves ook onder andere die Stilbaai vliegveld.

Die proklamasie van die Pauline Bohnen reservaat was op 27 Augustus 1982 goedgekeur en in die Provinsiale Koerant No 508/1982 geadverteer. Die proklamasie van die reservaat het ook ‘n meegaande kaart ingesluit wat die geproklameerde gedeelte aangetoon het. Hierdie kaart het dit baie duidelik getoon dat die vliegveld nie deel van die reservaat is nie en in 1993 was daar ‘n wysiging aan die grense gedoen en geadverteer in PK 193/1993. Hierdie wysiging het behels dat gedeeltes soos die vliegveld, Julie se Baai, die pistoolklub, begraafplaas, abattoir en nywerheidsgebied, nie deel van die reservaat was nie. Hierdie uitsluitings uit die reservaat, naamlik: die vliegveld, Julie se Baai, die pistoolklub, begraafplaas, abattoir en nywerheidsgebied was op die kaart van 1993 as Gedeeltes A aangedui en die gedeelte wat die reservaat was op die kaart as Gedeelte B aangedui. Die beskrywing van Gedeelte A was: “Grondgedeeltes wat van die Pauline Bohnen Natuurreservaat uitgesny gaan word.” Die Gedeeltes A was egter nooit onderverdeel nie, dus nie vanuit erf 238 “gesny” nie. Dit is die uiteindelike doel dat al hierdie uitsluitings hierbo genoem uiteindelik onderverdeel word vanuit erf 238, daarom die voorgestelde onderverdeling van die vliegveld.

Die voorgestelde onderverdeling hou die volgende voordele vir die munisipaliteit in:

  1. Elke bate van die munisipaliteit soos die vliegveld, Julie se Baai, begraafplaas kry sy eie erfnommer en vorm dan nie meer deel van erf 238 nie. Dit vergemaklik die samestelling van die munisipale bateregister en sodoende kan elke onderverdeelde gedeelte ‘n afsonderlike waardasie kry. Tans word erf 238 in sy geheel gewaardeer (reservaat, Julie se Baai, vliegveld, begraafplaas).
  2. Onduidelikheid oor waar die grense van elkeen van hierdie uitsluitings loop word uit die weg geruim.
  3. Die verklaring van die reservaat as ‘n “Stewardship” reservaat in oorleg met Cape Nature word vergemaklik aangesien die grense duidelik gedefinieer is.

Die Kritiese Biodiversiteitareas is areas wat nie grenslyne van eiendomme in ag neem nie. Dit sou beteken dat daar moontlik wel Kritiese Biodiverse areas in die area van die vliegveld voorkom. Hierdie areas sou dan in berekening gebring moet word indien verdere uitbreiding van die vliegveld area soos byvoorbeeld die oprigting van vliegtuigloodse, sou plaasvind.

Die aansoek om onderverdeling met gepaardgaande kaart sal by die Munisipale kantoor op Stilbaai beskikbaar vir besigtiging wees en indien persone kommentare wil lewer het hulle tyd tot en met 15 April 2017.

Thank for your file upload