Albertinia se stoor kapasiteit vir water om die gemeenskap te bedien, bestaan uit 3 reservoirs met ‘n gesamentlike kapasiteit van 4100 kiloliter. Die normale verbruik per dag gedurende die jaar is tussen 600-700kl per dag, dit wil sê daar is ten minste 4.8 dae nood stoor kapasiteit.
Albertinia se waterbronne bestaan hoofsaaklik uit boorgate en fonteine wat ‘n gemiddelde 860 kiloliter water per dag kan lewer. Die gebruik vir die afgelope maand is tussen 900-1000kl per dag. Dit is ‘n aanduiding dat daar te min rouwater voorsien word om die huidige verbruik te kan akkommodeer. Die reservoir vlakke bly konstant laag, met die gevolg dat dit waterdruk probleme in die gemeenskap teweeg bring.
Tydens die feesseisoen en warm somerdae, is die watertafel baie laag en neem die lewering van boorgate en fonteine nog verder af. Die toename in waterverbruik word verder veroorsaak deur inwoners wat swembaddens volmaak wat baie druk op die watertoevoer plaas.
Om die probleem gedeeltelik aan te spreek, word Vlak 3 waterbeperkings maatreëls vir Albertinia vanaf 01 Maart 2021 ingestel:
- Tuine mag net een keer per week tussen 16h00 en 18h00 natgemaak word waarvan die gelyke straatnommers op Dinsdae en die ongelyke straatnommers op Donderdae natgemaak mag word. Hierdie bepaling vervang alle vorige vergunnings vir die natmaak op ander tye.
- Tuinslange mag slegs gebruik word indien onder toesig. Emmers, gieters en outomatiese besproeiingstelsels vir die natmaak van tuine, mag gebruik word op voorwaarde dat dit binne die toegelate tydgleuf gebeur.
- Afspuit van verharde oppervlaktes word verbied, insluitend dak oppervlaktes en mure van wonings.
- Die was van voertuie, karavane en bote mag slegs deur middel van ‘n emmer gedoen word.
- Indien ander bronne soos reënwater tenks of boorgate gebruik word, moet dit op ‘n sigbare wyse aangedui word.
- Vergunnings sal oorweeg word vir byvoorbeeld ouetehuise, kwekerye en karwas besighede.
- Die lewering van munisipale dienste, wat sportfasiliteite en munisipale bates insluit, is uitgesluit by bogenoemde beperkings en sal op ad-hoc basis bestuur word deur Administrasie.
Hierdie vervang vorige beperkings en is geldig vir Albertinia. Die situasie in Albertinia sal gemonitor word en strenger beperkings sal ingestel word indien die toestand van waterbronne versleg. Vlak 2 waterbeperkings is nog steeds geldig vir die res van Hessequa.
‘n Beroep word op inwoners in alle dorpe binne Hessequa gedoen om steeds water spaarsamig te gebruik. Water is ‘n skaars hulpbron en in tye van onsekere weerpatrone moet ons gebruike so aanpas dat ons nie die bronne negatief affekteer nie.