SPOEDIGE HERSTEL VAN RIVERSDAL POMPSTASIE
19 Maart 2019
Hessequa Munisipaliteit is bewus van die elektriese defek by die rioolpompstasie te Riversdale en het onmiddellik reageer nadat die elektroniese fout opgetel was deur die Tegniese afdeling.
Die klein hoeveelheid riool wat in die omringende omgewing gestort was is vinnig opgeruim en gesaniteer, met GEEN kontaminasie van die Goukourivier water nie. Geen riool is in die rivier gestort nie. Die situasie is onmiddellik aangespreek en aksie geloods.
Noodsaaklike opruimingsaksie is binne ʼn uur geloods vandat die elektroniese fout opgetel was en is tegniese ondersteuning vanaf Heidelberg ingebring om die opruimingsaksie so spoedige as moontlik te voltooi.
Munisipale Bestuurder, Johan Jacobs noem dat daar ongelukkig altyd ʼn risiko bestaan dat toerusting kan faal, maar weens die spoedige reaksie van die munisipaliteit, is daar geen gevaar of risiko van besoedeling nie.
Die opgradering van die Riversdal Rioolwerke word in fases uitgerol en oor ʼn paar finansiële jare uitgevoer. Hierdie opgraderings word grootliks befonds deur Munisipale Infrastruktuur Toekennings (Nasionale fondse en kapitaal toelaes wat spesifiek vir munisipale infrastruktuur projekte aangewend word.) Die pompstasie ter sprake vorm deel van hierdie opgraderingsprojek.
Hessequa Munisipaliteit is verbind tot goeie en deursigtige dienslewering vir alle inwoners in die Hessequa-streek.