Hier is ʼn paar nuttige wenke om voorbereid te wees vir beurtkrag en ook jou verbruik te verminder en krag te spaar:
▪Skakel onnodige ligte, geisers, swembadpompe en alle nie-noodsaaklike toestelle af.
▪Gebruik slegs wat jy nodig het – byvoorbeeld, kook net soveel water as wat jy nodig het vir koffie, eerder as ’n hele ketel vol.
▪Skakel slegs die ligte aan wat jy benodig en vervang hulle met energie-besparende alternatiewe soos LED ligte.
▪Maak jou wasgoed buite droog in plaas van ʼn tuimeldroër.
▪Maak seker dat jou selfoon, skootrekenaar, tablet en radio altyd ten volle gelaai is wanneer krag beskikbaar is. Dit sal jou toelaat om tydens beurtkrag met vriende en familie te kan kommunikeer.
▪Skakel toestelle en laaiers af en koppel dit uit wanneer dit nie gebruik word nie.
▪Moenie net jou elektroniese toebehore afskakel nie, maar prop dit ook uit. Sommige toebehore soos rekenaars, televisies, DVD-spelers, dekodeerders, klanksisteme, ensovoorts gebruik krag selfs al is jy nie besig om húlle te gebruik nie. Prop hierdie toebehore uit vir optimale besparings.
▪As jy nie ‘n gasstoof het nie, berei maaltye voor voordat die krag geskeduleer is om afgeskakel te word. Kook water in jou ketel en hou dit in termosflesse vir warm drankies.
▪Sit deksels op potte en panne as jy kook.
▪Laat bevrore kos heeltemal ontvries en laat warm kos heeltemal afkoel voordat jy dit in die yskas sit.
▪Water pompstasies by damme / reservoirs en afvalwater behandelingswerke word ook deur beurtkrag geraak, so moet asseblief nie jou toilet onnodig spoel nie.
▪Maak seker dat jy kontant by jou het aangesien OTM’e nie sonder elektrisiteit kan werk nie.
▪Maak seker dat jy brandstof in jou voertuig se tenk het.
▪Verlaag jou geiser temperatuur tot 60 grade, en gebruik dit net vir een of twee ure per dag.
▪Hou gasligte, flitse en kerse byderhand vir maklike gebruik.
▪Maak seker dat jou rugsteun batterye vir elektriese hekke, motorhuisdeure en sekuriteitstelsels in werkende toestand is en deur beurtkrag sal hou.
▪Pasop vir hoër brand risiko’s as gevolg van alternatiewe metodes van beligting en kook.
BAIE BELANGRIK: Skakel elektriese toestelle af voor beurtkrag om kragstuwings en langdurige onderbrekings te vermy wanneer die krag weer aangaan. Gebruik slegs noodsaaklike toestelle wanneer krag herstel word na beurtkrag. Dit verminder die risiko van oorlading van die elektriese netwerk. Verbruikers word versoek om waar moontlik, toestelle soos stowe en ketels vir minstens 30 minute na beurtkrag nie aan te skakel nie.