Vandalisme, plundery en diefstal by speelparke, begraafplase en openbare geriewe is ʼn ernstige probleem in die Hessequa-streek. Hessequa munisipaliteit en Raad neem standpunt in en sal nie meer vandalisme teen munisipale bates en veral in begraafplase duld nie.
Hessequa wetstoepassers patrolleer gereeld begraafplase om persone wat doelloos vertoef aan te spreek. Die toename in vandalisme by begraafplaas asook speelparke en sportgronde is kommerwekkend en word die gemeenskap aangemoedig om verklarings van vandalisme in te handig by die Raad / Munisipaliteit.
- Direkteur van Tegniese Dienste, Mnr L Zincume is opdrag gegee om ʼn strategie van “voorkoming van vandalisme plundery en diefstal” per wyk te verkry en aan die Raad voor te lê vir oorweging en goedkeuring.
- Agendapunte sal by Polisiëring Forums asook Buurtwag vergaderings geplaas word.
- Bewusmakingsvergaderings met die gemeenskappe sal gehou word tydens Burgemeesters Uitreike om die gemeenskap in te lig rakende die uitdagings van vandalisme.
Munisipale Bestuurder, Johan Jacobs noem dat die sinlose vandalisering van enige openbare bate soos verkeerstekens, substasies, ablusiegeriewe, openbare parke, (wat insluit begraafplase) is ‘n groot kommer want die herstelwerk plaas ‘n onnodige las op die belastingbetaler terwyl die fondse eerder aangewend kon word om verdere fasiliteite aan te bring, eerder as herstelwerke. ‘n Beroep word op alle lede van die publiek gedoen om vandalisme te rapporteer en wenke wat lei tot skuldigbevinding van die oortreders kan beloon word.
Hessequa Munisipaliteit doen ‘n beroep op die gemeenskap om asseblief te help met die uitwissing van diefstal, plundery en vandalisme.
Die publiek kan die skakelbord nommer by 028 713 8000 skakel, of ʼn e-pos rig aan info@hessequa.gov.za. ‘n Lid van die publiek moet hul naam en kontakbesonderhede verskaf en hulle getuienis mag nodig wees vir die suksesvolle skuldigbevinding. Die identiteit van die inligtingverskaffer sal beskerm word.