Hessequa Munisipaliteit het op 15 Januarie 2015 ʼn Erkenningsgeleentheid vir tydelike skoonmakers aangebied. Die doel van die byeenkoms was om waardering aan die tydelike werkers te betoon wat uitsonderlike skoonmaakdienste gelewer het. Die uitblinkers het kontrak-skoonmaakdienste gelewer by die Hessequa kampterreine asook Preekstoel dagkamp tydens die Desember 2015 / Januarie 2016 feesseisoen.
Wat die geleentheid besonders gemaak het, is dat die Uitvoerende Burgemeester, Raadslid Emor Nel die sertifikate aan die werkers oorhandig het. “Dit is ʼn voorreg om die Raad se dank uit te spreek aan diegene wat onbaatsugtige diens lewer. Hierdie werkers het die beeld van die munisipaliteit uitgedra deur hul goeie gesindheid en harde werk. Tydelike werk hou altyd die potensiaal in vir nuwe geleenthede. Jacoline Hoogbaard kon nie die geleentheid bywoon nie, aangesien sy ‘n werksaanbod ontvang en aanvaar het tydens haar werksaamheid by die kampterrein. Ons is voorwaar saam met haar dankbaar vir die wonderlike geleentheid.” het Burgemeester Nel genoem in haar bedanking.
Die bestuur van die kampe is in 2015 onder Korporatiewe Dienste, Albert Kleynhans en Ken van Eck se leiding geplaas om die kwaliteit van dienslewering en geriewe te bevorder. Dienslewering is deurlopend tydens die feesseisoen geëvalueer en onbeplande inspeksies is gereed afgelê om die gehalte van skoonmaakdienste en netheid te monitor. Die komplimente wat ontvang is van besoekers en kampeerders spreek boekdele van die standaard wat gehandhaaf is.