Die Stilbaai waternetwerk word tans opgradeer deur die bestaande asbes met plastiekpype (uPVC) te vervang. ʼn Kontrakteur is aangestel met die doel om waternetwerke te versterk en waterdruk aan inwoners te verbeter.
ʼn Kennisgewing is aan die inwoners van Rivierstraat uitgestuur om hul in te lig oor die verbreking van watertoevoer vir 28 September. Die rede hiervoor was dat die bestaande asbes-pyp tussen Rivierstraat en Hoofweg vervang gaan word met die nuwe plastiekpyp. Met die opkoppeling van die nuwe toevoerpyp het ʼn bestaande klep uitgebreek weens die hoë waterdruk naby Orchidstraat, Stilbaai Wes en het Hessequa munisipaliteit se Tegniese Departement vanaf gisteraand deurlopend aan die probleem gewerk. ʼn Nuwe waterklep is op die bestaande waterpyp aangebring op 29 September om Stilbaai Hoogte van watertoevoer te voorsien. Die vervanging van die uitgebreekte waterklep wat die probleem veroorsaak het, is tans in proses en is ʼn watertenk deur die munisipaliteit uitgestuur om inwoners van water te voorsien. Hessequa munisipaliteit bied verskoning aan vir die ongerief en bedank die Stilbaai Wes inwoners vir hulle geduld. Alle moontlike stappe word geneem om watertoevoer spoedig te herstel.