Afrikaans Afrikaans English English Sesotho Sesotho Xhosa Xhosa Zulu Zulu
Afrikaans Afrikaans English English Sesotho Sesotho Xhosa Xhosa Zulu Zulu
Entrepreneurs Academy

Skoon Ouditverslag vir Hessequa

Die Ouditeur-generaal van Suid Afrika het na drie maande van intensiewe oudit, bevestig dat Hessequa Munisipaliteit vir die 2014/15 finansiële jaar ’n skoon ouditverslag behaal het. Dit is die tweede agtereenvolgende jaar dat die eer Hessequa Munisipaliteit te beurt val. Die Munisipaliteit het ook in die 2013/14 finansiële jaar ’n skoon ouditverslag ontvang.

‘n Skoon ouditverslag beteken dat die Ouditeur-generaal tevrede is en dat alle wette en regulasies wat daargestel is, nagekom word. ‘n Skoon ouditverslag is die hoogste toekenning wat ‘n munisipaliteit van die Ouditeur-generaal kan ontvang.

Die ouditeur fokus op drie aspekte tydens hul ondersoek: prestasiebestuur, finansiëlebestuur en inligtingstegnologie. Die eksterne oudit van ‘n munisipaliteit bestaan nie meer net uit die oudit van finansiële state nie, maar ook ‘n oudit van prestasie teikens.

Mnr Johan Jacobs, Munisipale Bestuurder noem: “Die bereiking van ‘n Skoon Oudit is werklik ‘n spanpoging van verantwoordelike bestuur en elke kollega binne die munisipaliteit word hartlik bedank vir hul volgehoue harde werk en verbintenis tot uitstaande dienslewering aan die gemeenskap. ‘n Groot woord van dank word aan die Raadslede gerig vir die verantwoordelike besluitneming en omgewing wat geskep word om dienslewering te laat plaasvind.”

‘n Munisipaliteit kan een van vyf oudit-opinies, van baie goed tot baie sleg, van die Ouditeur-Generaal kry, naamlik ‘n ongekwalifiseerde oudit sonder enige ander sake (‘n skoon oudit), ‘n ongekwalifiseerde finansiële oudit met beklemtoonde sake, ‘n gekwalifiseerde oudit (opinie kan nie gegee word oor die finansiële state in hul geheel nie weens onreëlmatighede of onakkuraathede), ‘n afwysing (‘n opinie kan nie gegee word nie oor die finansiële state in hul geheel nie omdat die state nie voldoende voltooi is nie), en ‘n negatiewe opinie omdat die finansiële state nie ‘n korrekte weerspieëling is van hoe die munisipaliteit sy finansies bestuur het nie).

“Dit is weereens met trots dat ek en die Raad hierdie prestasie kan deel met die amptenary wat verantwoordelik is vir die behaling van die teikens, onder die Raad se oorsigrol.  Groot dank veral vir die toewyding en lang ure wat deur die Bestuurder Finansies en haar span ingesit is, om die finansiële state in-huis af te handel.  ‘n Ware veertjie in die hoed vir Hessequa.  Hierdie is een van die doelwitte wat hierdie Raad daargestel het om in die huidige termyn te bereik.  Al ons 2011 doelstellings is bereik, in plek en gereed om Hessequa Munisipaliteit te lei tot ‘n finansieel gesonde, goed funksionerende en dienslewerende munisipaliteit,” het Uitvoerende Burgemeester, Emor Nel genoem.

Die 2014/2015 finansiële state sal op ‘n Spesiale Raadsvergadering ter tafel gelê word en sal daarna op die webwerf beskikbaar wees.

Thank for your file upload