Die sportgemeenskappe van Slangrivier en Melkhoutfontein, sal in die volgende drie boekjare baat vind by onderskeie opgraderingsprojekte van sportfasiliteite.
Die opgraderingsprojekte sal plaasvind oor drie finansiële jare, 2018/2019, 2019/2020 en 2020/ 2021. Hessequa Munisipaliteit het in Mei 2017 voorgeneem om die bestaande sportgronde te laat opgradeer en sal 3 012 begunstigdes in Slangrivier en 2 533 begunstigdes in Melkhoutfontein voordeel trek uit die opgraderings.
Die opgraderingsprojek sal befonds word deur twee bronne wat bestaan uit ‘n Munisipale Infrastruktuur Toekenning (MIG) en munisipale befondsing.
Slangrivier: 98% MIG en 2% munisipale befondsing
Melkhoutfontein: 81% MIG en 19% munisipale befondsing
Die totale uitgawe van die projek beloop ongeveer R10 miljoen vir Slangrivier en R10 miljoen vir Melkhoutfontein.
OPGRADERINGS SLUIT IN:
- Opgradering van bestaande ablusiegeriewe
- Opgradering van grasoppervlakte
- Outomatiese besproeiingstelsel
- Ondergrondse dreineringstelsel
- Oprigting van ʼn paviljoen (500 sitplek vir Slangrivier en 400 sitplek vir Melkhoutfontein)
- Beligting
- Opgradering van netbalbaan en oprigting van twee tennisbane per dorp
Munisipale Bestuurder Johan Jacobs noem dat die opgraderingsprojekte is vervat in die munisipale vyf jaar Geïntegreerde Ontwikkelings Plan en beoog om werkskepping vir die plaaslike gemeenskap te skep. Die beplanning van die projekte sal in 2018/2019 boekjaar geskied en is afhanklik van die beskikbaarheid van die MIG befondsing.
Die Munisipaliteit se doelwit is om alle sportfasiliteite binne Hessequa-streek op dieselfde standaard te bring. Riversdal en Heidelberg beskik oor voldoende fasiliteite en die opgraderingsprojek van Albertinia se sportgronde is in Mei 2015 voltooi.
Uitvoerende Burgemeester Grant Riddles: “Sport het ‘n inherente mag om gemeenskappe byeen te bring en om ‘n gevoel van insluiting te gee. Sport is ʼn groot trekpleister vir sportmanne en -vroue uit diverse agtergronde. Sport bied veral aan talentvolle jongmense in arm gemeenskappe die geleentheid om bo hul omstandighede uit te styg.”