Tegnologie ontwikkel daagliks en is ʼn uitdaging vir enige instansie. Dit het byna altyd onvoorsiene gevolge en terwyl een situasie opgelos word, kan ‘n ander, soms nie-verwante situasie opduik wat dienslewering kan beïnvloed.
Voorbeelde van ontwikkelende tegnologie is die telekommunikasiestelsel wat voorheen op ʼn landlyn gewerk het, maar oorgeskuif het na ‘n datalyn wat van internetkonnektiwiteit en bandwydte afhanklik is om te funksioneer. Geskrewe posstukke aan die Munisipale Bestuurder het verminder na +-10 per dag, maar het die elektroniese eposse vermeerder na +- 300 eposse per dag.
Hessequa munisipaliteit het verskeie gesofistikeerde stelsels wat probleme tot gevolg kan bring. Die munisipaliteit se visie is om op datum te bly met die vooruitgang in tegnologie, maar word gekniehalter deur die beskikbaarheid van infrastruktuur in landelike gebiede.
Toegang tot verskeie diensverskaffers en die huidige gebrek aan noodsaaklike kommunikasie-infrastruktuur in landelike gemeenskappe is ʼn realiteit.
Die munisipaliteit besef dat kommunikasiestelsels ‘n noodsaaklike vereiste by alle gemeenskappe binne Hessequa is.
Die oplossing vir die veelsydige kommunikasiestelsel probleme vereis ‘n geïntegreerde en holistiese benadering. Die munisipaliteit is tans besig om inligting en noodsaaklike tegniese ondersteuning in te win en gee deurlopend dringende aandag om die struikelblokke van kommunikasie-infrastruktuur uit die weg te ruim. Die gemeenskap se geduld word waardeer.