Die Hessequa munisipaliteit bedien ‘n gebied van ongeveer 5 733 vierkante kilometer en ʼn beraamde bevolking van 55 559. Die effektiewe dienslewering van basiese dienste soos toegang tot water, sanitasie, elektrisiteit, vullisverwydering en beskermingsdienste kan nie plaasvind indien daar nie genoegsame vervoer vir amptenare is nie.
Vervoer vorm ‘n noodsaaklike deel van dienslewering binne plaaslike regering. Die munisipaliteit het ʼn tender proses gevolg om tien voertuie te bekom en verligting te bied vir die uitgediende voertuie in die munisipale vloot.
4×4 bakkie vir Beskermingsdienste – een voertuig
Sedan motors vir onderskeie departemente binne die munisipaliteit nl. Beskermingsdienste, Tegniese Departement en Gemeenskapsdienste. – drie voertuie
LDV bakkies vir die Tegniese Departement. – ses voertuie
Die tekort aan voertuie binne die Beskermingsdienste afdeling, is vervat in ʼn aksieplan en is die aankoop van ʼn 4×4 bakkie as noodsaaklik beskou om dienslewering op alle terreine te bied. Twee van die sedan motors, vervang twee van die uitgediende voertuie in die Beskermingsdienste afdeling. Uitgediende voertuie word slegs vervang indien dit nie meer ekonomies haalbaar is om die voertuie te laat herstel nie.
Hessequa Munisipaliteit het aansoek gedoen by Kaapstad Munisipaliteit om drie tweedehandse voertuie te bekom en om die verdere tekort aan voertuie in die Hessequa vloot aan te vul.
Die verkryging van die voertuie is bloot die implementering van ‘n beplande diens binne die omvang van die huidige begroting en bekostigbaarheid van die munisipaliteit.
Die munisipaliteit beskik oor ʼn voertuig-bestuurprogram waardeer elke voertuig en die bestuurder elektronies gemonitor word. Elke bestuurder beskik oor ʼn kontroleskyfie wat deur die bestuurder gebruik word en wat slegs vir daardie persoon en voertuig ge-aktiveer word. Streng kontrole word oor alle voertuie uitgeoefen.