Kabeldiefstal kos Suid-Afrika jaarliks meer as vyf-miljard rand en plaas die diefstal `n groot las op sake ondernemings en plaaslike owerhede. Die diefstal van kragkabels en onwettige kragverbindings kos munisipaliteite nie net verlore elektrisiteit nie, maar beïnvloed die werkinge van die waterwerke afdeling.
Hessequa gemeenskappe, onder andere die Gouritsmond omgewing, ondervind kragonderbrekings weens die vandalisme wat beleef word. Diefstal is onlangs beleef van Eskom lyne in die area.
Onwettige kragverbindings en kabeldiefstal moet onmiddellik gerapporteer word aan die SAPD want elektrisiteit is skaars in Suid-Afrika.
Die Munisipale Bestuurder, Mnr. Johan Jacobs, doen ‘n beroep op die gemeenskap om enige vernielsugtige aktiwiteite of diefstal te ontmoedig, te staak en aan te meld. “Ons moet op die gemeenskap staatmaak om ons hiermee te help. Teen die tyd wat ‘n aanmelding ons of die SAPD bereik, is die skade reeds gedoen. Die gemeenskap se ondersteuning in die bekamping van hierdie aksies sal opreg waardeer word. Kom ons neem almal eienaarskap en vat hande om die duur infrastruktuur wat nodig is om kragvoorsiening doeltreffend te bedryf, te bewaar. Die koste daarvan om gedurig vernielde infrastruktuur te herstel, sal uiteindelik ‘n uitwerking op die prys van elektrisiteit meebring.”