Twee plaaslike senior burgers van die Hessequa-streek, Me. Aida Bothma en mnr. Cycil Rooi, het die Wes-Kaap verteenwoordig in die National Golden Games te Durban vanaf 23 – 27 Oktober 2017.
Die spele, met die tema ‘bevordering van aktiewe veroudering’, word gehou om fisieke aktiwiteit onder ouer mense te bevorder. Alle provinsies het spanne ingeskryf van persone met die ouderdom van sestig jaar en meer.
Me. Bothma (Golden Oldies Senior Burger Klub) en mnr. Rooi (River Valley Senior Burger Klub) het deelgeneem aan die “Ball Relay” by die Golden Games en het elkeen ʼn medalje ontvang vir hul deelname.
Die National Golden Games is ʼn jaarlikse instelling wat gedryf word deur die Departement Maatskaplike Ontwikkeling en die Departement van Sport en Rekreasie.
Hessequa Munisipaliteit se Gemeenskapsdienste bied jaarliks ʼn Senior Burger Sportdag aan met die doel om Hessequa se senior burgers aan te moedig om ʼn aktiewe leefstyl te handhaaf. Die sportdag stel senior burgers in staat om te kwalifiseer van die Hessequa en dan later die Distriksspan.
Hessequa munisipaliteit wil van die geleentheid gebruik maak om hierdie twee kampioene geluk te wens met hul prestasie en is trots dat hul aktiewe deelname Hessequa se naam hoog hou op nasionale vlak.