Die sportgemeenskap en Hessequa munisipaliteit het op 25 Augustus 2016 die amptelike stigting van die Hessequa Sportraad teweeggebring. Die Hessequa-streek sluit in onder andere Albertinia, Riversdal, Heidelberg, Gouritsmond en Stilbaai.
‘n Deeglike konsultasieproses is gevolg en alle sportkodes is die geleentheid gegun om insette te lewer. Die model wat deur Hessequa Sportraad en die Munisipaliteit in samewerking met die Eden Sportraad ontwikkel is, verskaf setels aan alle sportkodes om sportliggame in die Hessequa-streek te verteenwoordig.
Die Bestuurskomitee bestaan uit ʼn Voorsitter, Vise-voorsitter, Sekretaris, Tesourier en ʼn Munisipale Ex Officio lid. Alle sportklubs van ʼn betrokke sportkode kom byeen en verkies ʼn verteenwoordiger om op die Sportraad te dien. Dit geld ook vir alle Laer- en Hoërskole in die Hessequa gebied.
Die Sportraad tree ook op as die amptelike adviserende liggaam oor sport vir die Hessequa Munisipaliteit. Nie net is Hessequa aangewys as een van die beste bestuurde munisipaliteite in die land nie, maar neem hulle ook leiding om na sport en rekreasiebehoeftes binne die gemeenskappe om te sien. Die Interim Bestuur wat die proses sal dryf tot en met die eerste amptelike vergadering, is Pat Witbooi [Voorsitter], PJ Adams [Vise-voorsitter], Jo-anne Hartnick [Tesourier], Gavin Geswindt [Sekretaris] en Raymond Heunis [Ex Officio – Munisipaliteit].