Hessequa Munisipaliteit is ʼn brandweervoertuig ryker. Minister van Plaaslike Regering Mnr. Anton Bredell het ʼn gespesialiseerde brandweervoertuig ter waarde van ongeveer R1 miljoen aan die Hessequa Beskermingdienste oorhandig. Die amptelike oorhandiging het op 13 Oktober 2016 by Hessequa Munisipaliteit in Riversdal plaasgevind.
Verrigting is afgeskop deur ʼn optrede van Hessequa se brandweerpersoneel asook ʼn tentoonstelling van die waterspuitfunksionaliteit van die nuwe brandweervoertuig.
Minister Bredell het aan Me. Jackie Pandaram Direkteur Rampbestuur die geleenthede gebied om die simboliese lint te knip namens Hoofdirekteur van Rampbestuur Mnr. Colin Deiner.
Die brandweervoertuig kom net betyds vir die brandseisoen. Volgens Munisipale Bestuurder Mnr. Johan Jacobs is hierdie ʼn positiewe bydrae tot die munisipaliteit en is die brandweervoertuig ʼn bewys van goeie samewerking tussen plaaslike en provinsiale regering.
Direkteur van Gemeenskapsdienste Mnr. Chris Onrust noem dat dit ʼn groot aanwins is vir die munisipaliteit se reddingsdienste.
Minister Bredell beklemtoon die belangrikheid van bewusmaking van die gevare van brande bly ʼn prioriteit in die Wes-Kaap Provinsie. “Deur die nodige opleiding en toerusting aan brandweermanne te voorsien, kan lewens gered word. Die voertuig wat aan Hessequa oorhandig is, is spesifiek ontwerp om op ʼn plaaslike vlak gediens en onderhou te kan word, wat die plaaslike ekonomie sal ondersteun en dienslewering bevoordeel. Hierdie bykomende brandbestrydingsvoertuig spuit beide water en skuim terselfde tyd, om enige tipe brand veilig te bestry. “
Die uitbreiding en bemagtiging van Beskermingsdienste bly ʼn top prioriteit van die munisipaliteit en Raad noem Uitvoerende Burgemeester Raadslid Grant Riddles. “Ons as Raad sal voortbou op die goeie samewerking tussen plaaslike regering, politici, provinsiale regering en nasionale regering om Hessequa se Beskermingsdienste toe te rus met die nodige toerusting en bemanning. Hessequa munisipaliteit en onder andere ons Beskermingsdienste waardeer opreg hierdie wonderlike skenking.”