HESSEQUA GEKROON AS GROENSTE MUNISIPALITEIT IN WES-KAAP
Hessequa Munisipaliteit het die jaarlikse Groenste Munisipaliteit Kompetisie (Greenest Municipality Competition) in die Wes-Kaap gewen.
Die toekennings is aangekondig deur mnr. Anton Bredell, Minister van Plaaslike Regering, Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning op Maandag, 02 November 2015 tydens ʼn toekenningseremonie te Somerset-Wes.
Hessequa stap weg as algehele wenner in die kategorie: Leierskap, nakoming, instansie reëlings en publieke deelname met ʼn persentasie van 77%. As wenner ontvang Hessequa ʼn bedrag van R130 000.00 en sal die Wes-Kaap verteenwoordig in die Nasionale Kompetisie vir Groenste Munisipaliteite.
Mosselbaai Munisipaliteit het tweede plek behaal, gevolg deur Swartland Munisipaliteit in die derde plek. Eden Distriksmunisipaliteit het eerste plek behaal in die streeks owerhede kategorie, gevolg deur Overberg en Kaapse Wynland in onderskeidelik tweede en derde plek.
Die kompetisie is beoordeel volgens streng kriteria:
Afvalbestuur,
Energiedoeltreffendheid en Bewaring,
Biodiversiteit en kusbestuur,
Waterbestuur en bewaring,
Kwaliteit van lugbestuur en
Leierskap, nakoming, instansie reëlings en publieke deelname.
“Die vennootskappe wat ons het met instansies soos Tuin op die Brak, Stilbaai Belangeforum, Heidelberg Besigheidsforum, ens. help baie met hierdie wonderlike prestasies. Hierdie sukses kan slegs bereik word deur die uitstekende spanpoging waarby almal, van die Omgewingsafdeling tot die mees junior persoon by die Munisipaliteit hul samewerking bied. Ek is baie trots op elkeen se bydrae, noem die Munisipale Bestuurder, Johan Jacobs in sy kommentaar.