Die Wes-Kaap is amptelik as die top presterende Provinsie in die land aangewys vir die 2015/16 provinsiale en plaaslike oudit uitkomste.
Tydens ‘n seremonie gehou op Maandag, 10 April 2017 het Mnr. Solly Segooa en Me. Sharonne Adams, verteenwoordigers van die Ouditeur-generaal van Suid-Afrika, toekennings oorhandig aan verdienstelike provinsiale, munisipale departemente en entiteite.
Hessequa Munisipaliteit het ʼn goue sertifikaat ontvang vir hul behaling van ʼn skoon ouditverslag vir ʼn derde agtereenvolgende jaar.
ʼn Totaal van 23 uit 30 munisipaliteite in die Wes-Kaap het skoon ouditverslae ontvang vir die 2015/2016 finansiële jaar.
Wes-Kaapse Minister van Finansies Dr Ivan Meyer noem dat die Wes-Kaapse Provinsiale Tesourier ondersteun munisipaliteite en provinsiale departemente om strenger finansiële bestuur toe te pas en deursigtigheid te bevorder.
Munisipale Bestuurder Mnr. Johan Jacobs, Direkteur Finansies Me. Lien Viljoen, Raadslid Ben Smith en Uitvoerende Burgemeester Mnr. Grant Riddles het Hessequa Munisipaliteit verteenwoordig tydens die seremonie.
Munisipale Bestuurder Johan Jacobs noem dat: “Hessequa bly verbind aan ʼn skoon administrasie en lewering van dienste van ʼn hoë gehalte. Alhoewel ʼn skoon oudit nie ten koste van hoë gehalte dienslewering nagejaag word nie, is daar ʼn duidelike werkband tussen ʼn skoon oudit en voldoening aan die behoeftes van die gemeenskap. Hessequa is trots om deel te wees van die puik prestasie van die Wes-Kaap en werk reeds daaraan om hierdie standaard te handhaaf.”
Munisipale Bestuurder Johan Jacobs, Direkteur Finansies Lien Viljoen, Raadslid Ben Smith, Burgemeester Grant Riddles.