Ratings Afrika’s publiseer ʼn Munisipale Finansiële Stabiliteit Indeks (MFSI), waar plaaslike munisipaliteite geëvalueer word op hul bedryfsprestasie, aanspreeklikheid, begrotingspraktyke en likiditeitsposisie. Munisipaliteite regoor die land word gevalueer en ʼn punt uit 100 uit toegeken.
Hessequa Munisipaliteit is volgens die onafhanklike MFSI verslag gelys as die beste presterende munisipaliteit in die Wes-Kaap en het ʼn punt van 78 uit 100 behaal en oortref al die plaaslike munisipaliteite in die land.
Die prestasie word bepaal deur munisipaliteite se gevestigde finansiële beleide en begrotings wat gebaseer is op gesonde langtermyn finansiële strategieë. Hessequa voldoen aan goeie begrotingspraktyke, streng finansiële beheer en ‘n goeie inkomste-invordering, selfs tydens moeilike ekonomiese omstandighede.
Hessequa se finansiële stabiliteit speel in groot rol in dienslewering. Deur kwaliteit langtermyn finansiële beplanning, sal die impak op dienslewering, die gemeenskap se lewenskwaliteit en ekonomiese groei gevoel word. Wat Hessequa laat uitstaan bo ander munisipaliteite in die land, is die munisipaliteit se vaardigheidsvlakke, ervaring, finansiële dissipline en kwaliteit van bestuur onder goeie bestuursleiding.
ʼn Langtermyn finansiële plan is deur ʼn kontrakteur in 2013 opgestel. Hierdie verslag staan bekend as die INCA verslag en is ʼn uitstekende dokument om volhoubare, bekostigbare dienslewering en finansiële vooruitgang te rig. Hierdie plan word deurlopend as ʼn lewendige dokument gebruik om likiditeit te verbeter en alle finansiële besluite aan te meet. Hessequa maak uiters selde gebruik van konsultante en word die finansiële state asook prestasie evaluering in-huis opgestel.
Hessequa munisipaliteit het vir twee agtereenvolgende finansiële jare (2013/2014 en 2014/2015) ʼn skoon ouditverslag vanaf die Ouditeur-generaal ontvang.