Behuisingsnoods word aangespreek te Heidelberg

image_pdfimage_print

In ʼn poging om verligting te bring vir die erge behuisingsnood in Heidelberg, het Hessequa munisipaliteit ʼn aansoek vir befondsing van 122 wonings formuleer vir oorweging deur die Provinsiale Departement van Menslike Nedersettings, Weskaap. Die ontwikkelingsarea is geleë te gedeelte 2 van erf 521, Diepkloof, in Wyk 4.

Die projek was deur die Departement goedgekeur vir al 122 behuisingseenhede ten bedrae van R14 807 000 en word die projek volgens die regering se Geïntegreerde Residensiële Program uitgerol. Die begunstigde administrasie proses is reeds voltooi en is al 122 geleenthede reeds aan begunstigdes geallokeer. Goedgekeurde begunstigdes sal eersdaags skriftelik in kennis gestel word.

Die Heidelberg terrein is reeds deur Hessequa Munisipaliteit se implementeringsagent ASLA oorgeneem en het konstruksie van die Topstrukture afgeskop.

Hierdie projek het ten doel om inwoners van Heidelberg van ’n menswaardige bestaan te verseker en vorder die projek tans volgens skedule. Die topstrukture word opgerig op ʼn erfgrootte van 150 vierkante meter en bestaan die woning uit 2 slaapkamers, ʼn oopplan kombuis, sit-/eetkamer en ʼn badkamer. Die hele woning sal geëlektrifiseer word. Alle goedgekeurde begunstigdes sal huiseienaarskap ontvang in die vorm van Titelaktes.