GENOEG IS GENOEG!
Hessequa Munisipaliteit se Departement Gemeenskapsdienste het op Vrydag, 24 November 2017 ‘n bewusmakingsveldtog geloods vir die 16 Dae Van Aktivisme teen gesinsgeweld en mishandeling van vrouens en kinders. Verteenwoordigers van die veldtog het deur die strate van Riversdale beweeg en ʼn geskrewe verbintenis ter ondersteuning van GEEN GEWELD TEEN KWESBARE GROEPE aan die Uitvoerende Burgemeester oorhandig.
16 Dae van Aktivisme teen vrouens en kinders is ‘n internasionale bewusmakingsveldtog en vind jaarliks plaas vanaf 25 November tot 10 Desember. Geweld teen vroue en kinders is ‘n ernstige en kommerwekkende probleem in die land. Hierdie tipe geweld kan verskeie vorme aanneem, onder andere fisiese, emosionele en finansiële mishandeling, seksuele aanranding en verkragting.
Hessequa munisipaliteit ondersteun hierdie inisiatief en het in samewerking met Riversdal SAPD, Departement Maatskaplike Ontwikkeling, Kindersorg Riversdal, ACVV Riversdal, Badisa Stilbaai, Awareness Action Slangrivier, Hessequa Beskermingsdienste, Working On Fire, Olives Senior Burger Klub, Golden Oldies Senior Burger Klub en kleuterskole deelgeneem aan die optog. Die doel van die veldtog is om die gemeenskap bewus te maak van geweld teen kwesbare groepe soos senior burgers, persone met gestremdhede, vrouens en kinders.
‘n Geskrewe verbintenis ter ondersteuning van geen geweld teen kwesbare groepe is oorhandig aan die Uitvoerende Burgemeester Grant Riddles en ‘n verteenwoordiger van die Departement van Justisie.