Stilbaai kragonderbreking

image_pdfimage_print

Die Stilbaai omgewing is op Maandag, 11 Julie 2016 in die donker gelaat toe die kragtoevoer onverwags om 09:00 die oggend onderbreek is.

Hessequa Munisipaliteit het ʼn geskeduleerde kragonderbreking te Stilbaai omgewing op 11 Julie 2016 beplan tussen 14:00 en 16:00 die middag. Die doel van die onderbreking was om die nuwe substasie te aktiveer en die nodige verstellings aan die stelsel aan te bring. Kennisgewings van die kragonderbreking is vroegtydig aan die gemeenskap versprei om hulle in kennis te stel van die diensonderbreking.

Omstreek 09:00 is die kragtoevoer na die Stilbaai omgewing deur Eskom afgeskakel. Hessequa munisipaliteit het onmiddellik ondersoek ingestel en vasgestel dat die probleem by Eskom se voorsieningpunt voorkom. Daar is vasgestel dat Eskom die kabels op die ou voorsieningsnetwerk begin sny het.

Projekspanne is saamgestel en spoedige planne is in werking gestel om die netwerk so vinnig moontlik te herstel. Die beplande werk het verskeie sleutelpersone benodig, asook sekere materiale wat eers teen 12:00 op die aanleg sou wees om die voorbereiding te doen vir die beplande arbeid.

Hessequa munisipaliteit neem kennis van die ontwrigting en frustrasie van Stilbaai gemeenskap en is ʼn ondersoek ingestel om te bepaal waarom die onderbreking verskuif is sonder vooraf kennisgewing.

Die munisipaliteit vra omverskoning vir enige ongerief wat veroorsaak was. Verdere samesprekings word tans met Eskom gevoer om vas te stel waar die misverstand en verwarring voorgekom het, asook te verseker dat soortgelyke insidente nie herhaal word nie.