Opknappingswerk van Burgersentrumgebou te Riversdal

image_pdfimage_print

Die buitekant van die Burgersentrumgebou te Riversdal sal binnekort ʼn nuwe baadjie aantrek.
Die tender vir die verf van die Burgersentrumgebou is toegeken en het die kontrakteur op 10 Februarie 2016 begin met die voorbereidingswerk.

Gesprekvoering 44 jaar gelede was aan die orde van die dag en het die oprigting van die Burgersentrumgebou groot reaksie by die gemeenskap uitgelok. Die Burgersentrum is gedurende 1972 gebou deur die firma Van Riebeeck Bouers. Dit het R550,000 gekos om die Burgersentrum te bou en ‘n verdere R65,000 is betaal vir die saal, biblioteek en kantoor meubels. Die publiek van daardie tyd was omgekrap oor die Raad soveel geld spandeer het. Sanlam het die geld vir die Raad geleen. Ingevolge die ooreenkoms sou die Raad jaarliks vir 20 jaar slegs die rente betaal, en aan die einde van die termyn die kapitaal delg. Die Raad het toe ‘n delgingsfonds gestig waartoe daar jaarliks ‘n bydrae gemaak is. Aan die einde van die 20 jaar periode was daar nagenoeg R1,100,00 daarin. Sanlam se kapitaal kon toe maklik terug betaal word, en die oorblywende R600,000 is op ander projekte spandeer.

Hedendaags beloop die opknappingswerk ongeveer R120 000.00 en sal die projek om en by drie weke duur.

Die gemeenskap se insette ten opsigte van die kleur verf is bekom in ʼn meningspeiling. In November 2015 het die Suid-Kaap Forum die publiek versoek om te stem vir hul verkose verf kleur. ʼn Opsie tussen “wit” en “stoneware” kleure is voorgelê en was die uitkoms: wit – 18% en “stoneware” – 82%.

Voorsorg is getref om die normale funksies van die munisipaliteit en biblioteek minimaal te ontwrig. Die ingang van die Burgersentrumgebou en die biblioteek sal oor naweke afgespuit en geverf word om nie die publiek en personeel te verontrief nie.

Verskoning word aangebied vir enige ongerief tydens die verbetering en word die gemeenskap versoek om op ‘n redelike afstand verby die gebou te beweeg om die nat verf te vermy asook nie die stellasies te versteur nie.

IMG_0135 IMG_0139 IMG_0141 IMG_0146