OPGRADERING VAN STILBAAI WALVISUITKYKPUNT ONDERSTEUN DEUR MUNISIPALITEIT

image_pdfimage_print

Die opgradering van die Stilbaai Walvisuitkykpunt is die gevolg van goeie samewerking tussen privaat grondeienaars, die Stilbaai Belangeforum en die Hessequa Munisipaliteit. Die munisipaliteit het in 2017 ʼn versoek ontvang vir die vestiging van ʼn toegangspad, vanaf die Walvisuitkykpunt na ses erwe in Skuitpadweg. Die vestiging van die pad was onderhewig aan die Rekord van Besluit vanaf die Departement van Omgewingsake en Ontwikkelingsbeplanning nadat ‘n wetlike omgewings impakstudie voltooi is. Die onderhoud, kostes en opgradering van die pad is en bly die verantwoordelikheid van die ses erfeienaars. Die herbouing van die uitkykpunt parkeerarea is die inisiatief van die grondeienaars en sou die formalisering van die uitkykpunt nie kon plaasvind sonder private investering nie.

Die Hessequa Munisipaliteit verleen logistiese ondersteuning aan hierdie gemeenskapsprojek, wat befonds word deur die grondeienaars. Die Stilbaai Belangeforum koördineer die projek en is ʼn toonbeeld van hoe gemeenskapsbetrokkenheid een van die hoekstene van vooruitgaan en omgewingsvolhoubaarheid is.

Die Stilbaai Belangeforum fokus huidiglik op die verfraaiing van die geplaveide parkeerarea. ‘n Tuin sal daar gevestig word wat bestaan uit inheemse plante wat geskik is vir die omgewing en min water benodig. Die tuin word reeds die “Tuin op die Duin” genoem en beloof om ‘n sieraad te wees, wat die omgewing nog meer aangenaam sal maak vir besoekers aan die uitkykpunt. Bankies sal aangebring word waar besoekers rustig die uitsig en omgewing kan bewonder.

Johan Jacobs, Munisipale Bestuurder sê die opgradering van die Walvisuitkykpunt is ‘n spanpoging en word elke instansie en privaat grondeienaar betrokke opreg bedank vir hul bydrae. “Hierdie is ‘n gesamentlike poging en ons is almal saam trots op die wonderlike resultate. Hessequa is bevoorreg om gemeenskapsorganisasies te hê wat belangstel om die omgewing te verbeter en deel te neem aan projekte tot voordeel van alle inwoners en besoekers.”