Nurdles op Gouritsmond

image_pdfimage_print

Hessequa munisipaliteit, Coastal Cleanup Conservation Trust, S.M.A.R.T (Stranded Marine Animal Rescue Team) en die Gouritsmond gemeenskap het kragte saamgesnoer om die “nurdles” krisis op Gouritsmond se strand te probeer verlig.

Hessequa munisipaliteit het ongeveer 45 “Community Work Program” (CWP) werkers, wat tans in Albertinia gestasioneer is, na Gouritsmond gestuur om vrywilligers te ondersteun in hul skoonmaakaksie.

Nurdles” is klein balletjies rou onverwerkte plastiek wat gebruik word om verskeie plastiekware te vervaardig. Alhoewel daar gedurende Oktober ‘n vragskip in die Durban hawe omgeslaan het met vraghouers van die lensiegrootte balletjies en sodoende Kwa-Zulu Natal se strande in ‘n oogwink in ekologiese rampgebiede omskep het, is daar klaarblyklik ook ander gebeurtenisse op die oop see waar die “nurdles” in die see beland op welke wyses.

Die plastiekballetjies is nie bio-afbreekbaar nie en in rou vorm ook nie toksies nie. Hulle gevaar lê daarin dat hulle vir verskeie mariene diere as ʼn voedselbron aangesien word en ook met tyd ander toksiese bestanddele aantrek. Diere wat hulle eet, se spysverteringstelsel kan dit nie verwerk nie wat lei tot ‘n onnatuurlike en ontydige dood.

Die “nurdles” kan opgetel word met behulp van nette, siwwe en skadunet en ʼn emmer.

Die verwydering van “nurdles” op strande is onbegonne taak en hoop die Munisipaliteit om voort te bou op die goeie samewerking tussen plaaslike owerhede, vrywilligers en die gemeenskap in skoonmaak inisiatiewe soos hierdie.