HESSEQUA MUNISIPALITEIT BEHOU KROON AS GROENSTE IN WES-KAAP

image_pdfimage_print

Hessequa Munisipaliteit is op 21 Oktober 2016 te Stellenbosch vir die tweede agtereenvolgende jaar as die groenste munisipaliteit in die Wes-Kaap aangewys. Hessequa stap as algehele wenner van die “Greenest Municipality” Wes-Kaap weg, met 5 pryse in tou.

Die kompetisie is beoordeel volgens streng kriteria en het Hessequa in deelgeneem in al die onderstaande kategorieë. Afvalbestuur, Energiedoeltreffendheid en Bewaring, Biodiversiteit en kusbestuur, Waterbestuur en bewaring, Kwaliteit van lugbestuur en Leierskap, nakoming, instansie reëlings en publieke deelname.

Hessequa is op die voorpunt van voorsorg tref vir klimaatsverandering. Die impak van klimaatsverandering in die Wes-Kaap is ʼn realiteit en het Hessequa onderneem om proaktief te reageer. Die wisselvallige reënvalpatrone kan lei tot uiterse droogtes en in Hessequa se geval, reënvalgebeurtenisse soos storms en vloede. Hessequa se opgradering en rehabilitasie van die stormwater infrastruktuur projek wat tans onderweg is, is saamgestel om voorkomende op te tree teen vloede. Die projek beloop ongeveer R72 miljoen en is befonds uit vloedskade befondsing.
Die projekte is beplan vir die volgende dorpe binne Hessequa, Heidelberg (R11 miljoen), Riversdal (R37 miljoen), Albertinia (R24 miljoen.)

As wenner ontvang Hessequa ʼn bedrag van R130 000.00 en sal die geleentheid ontvang om die Wes-Kaap in die nasionale kompetisie vir die groenste munisipaliteit te verteenwoordig.

“Ons is baie trots op hierdie prestasie van die Munisipaliteit aangesien die kompetisie al strawwer word. Om twee agtereenvolgende jare as wenner weg te stap getuig van die Munisipaliteit se geïntegreerde volhoubare ontwikkelingstrategieë en die munisipaliteit se verbintenis tot omgewingsvriendelike bestuur van ons pragtige dorpe,” het die Uitvoerende Burgemeester, Raadslid Grant Riddles in sy kommentaar op hierdie sukses van die Munisipaliteit gesê.

Munisipale Bestuurder, Mnr. Johan Jacobs noem in sy kommentaar: “Baie dankie en baie geluk aan elkeen wat meegehelp het om weer hierdie gesogte toekenning te verower. Dis spanwerk en elke projek is integraal deel van die geheel. Veral die samewerking met Gemeenskapsorganisasies beteken vir Hessequa baie en stel ʼn voorbeeld vir ander munisipaliteite in die Wes-Kaap en Suid-Afrika.”

img_0438 img-20161021-wa0011